Die Ortodokse Geloofsbelydenis
The Orthodox Creed
Waarlik, ons glo in een God, God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde en van alle sigbare en onsigbare dinge.
Ons glo in een Here, Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, voor alle eeue uit die Vader gebore. Lig uit Lig, ware God uit ware God, gebore, nie geskape nie, een in wese met die Vader; deur Hom het alles ontstaan.
Hy het ter wille van ons mense en ons verlossing uit die hemel neergedaal; deur die Heilige Gees en uit die maagd Maria het Hy vlees geword en mens geword.
Hy is vir ons onder Pontius Pilatus gekruisig, het gely en is begrawe; en op die derde dag het Hy volgens die Skrifte uit die dood opgestaan.
Hy het na die hemel opgevaar en sit aan die regterhand van sy Vader; Hy sal weer in sy heerlikheid kom om die lewendes en die dooies te oordeel, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.
Ja, ons glo in die Heilige Gees, die Here en Lewendmaker, wat van die Vader uitgaan; wat saam met die Vader en die Seun aanbid en verheerlik word; wat deur die profete gespreek het.
En in een heilige, algemene en apostoliese Kerk. Ons bely een doop tot vergifnis van sondes.
Ons verwag die opstanding van die dooies en die lewe van die toekomstige eeu. Amen.